Sunday 11 November 2012

Die Gekneusde Appels

Die gekneusde appels        13 November 2012

‘n Perfekte appel wat ek ‘n paar dae gelede as ‘n peuselhappie in my handsak gesit het, was ‘n paar dae later toe ek dit uithaal redelik gekneus.  Onder die appel se skil was die skade duidelik te sien.  Toe ek die appel middel deursny het ek gesien dat die kern gedeelte nog heeltemal perfek lyk.  My afleiding was dat die appel nie vrot was  nie, maar net gekneus en nog volkome eetbaar.
   Elke mens doen ‘kneusplekke’ in die lewe op en party belewenisse los permanente littekens.  Deur ons lewens ervaring en die seer, vorm ons ‘n lewensmening en vandaar neem ons ‘n lewenshouding aan.  Sommige houdings en gedrag beskadig nie net ons fisiese gesondheid nie, maar ook ons kern waarde van ons self.  Ons het almal negatiewe aspekte waarop ons nie trots is nie.  Ons konflik of ongelukkigheid word baie keer op die wat naaste aan ons is uitgehaal en meeste van die tyd blameer ons, ons lewensmaat of ons kollegas by die werk.  “As hierdie persoon net kan verander, dan sal ek gelukkig wees”,  “As ander hulle gedrag verander dan sal alles regkom, ensovoorts.”  As ons aanhou om te wag vir ander – sal die lewe ‘n lang gewag word.  Ons kan niemand verander nie – net ons eie houding en benadering tot ander.  Soos die gesegde sê: “As jy nie die antwoorde / reaksie kry wat jy soek nie, dan moet jy die vraag verander.”
   Dit vat twee mense om ‘n tango te dans.  Daar is altyd meer as een kant van ‘n storie.   Dink aan die persoon wat jou gereeld teleurstel of met hulle gedrag seermaak.  Skei hulle gedrag van wie hulle is as mens.  ‘n Persoon is nie sy gedrag nie.  Hy is ‘n mens soos ek en jy – met sy eie lewensgeskiedenis, seerkry, omstandighede, gevoelens en behoeftes.  Mense reageer vanuit hulle perspektief van realiteit en NIE die realiteit self nie.  Elke mens se realiteit is soos hy of sy dit verstaan of sien.  Elke individu sien die lewe deur sy eie oë – ons moet verstaan en leer dat die uitsig anders lyk vir elkeen. 
Onthou, God maak nie foute nie en elke mens is perfek geskape (die kern van die mens is perfek), dit is die lewe en die omstandighede wat kneusplekke en letsels veroorsaak.  Hoe wonderlik is dit om die mens te sien met al sy kneusplekke en letsels en nog steeds lief te wees vir daardie persoon.  Mense is soveel meer as net hulle gedrag en reaksies!
Karin Engman, Life Coach and Motivation Speaker Ermelo, 072 1896951 


No comments:

Post a Comment