Tuesday 11 June 2013

Maak vandag nog vrede 11 June 21013

Maak vandag nog vrede       11  Junie 2013      
Noudat ek uiteindelik volwasse is, is ek nog steeds besig om te leer om meer taktvol te wees.   ‘n Mens is taktvol wanneer jy die kuns bemeester het om ‘n standpunt te maak, sonder om ‘n vyand by te kry. 
Taktvol wees is ook die resep vir vrede maak.  Elkeen van ons het verhoudings wat in die ‘laai’ van onvrede lê en wag.  Ons kan wel probeer om dit te ignoreer of dalk te wag vir die ander persoon om tot insienning te kom, dat hulle die skuldige een is.  Terwyl ons wag en alles op krop,  knaag die onvrede aan ons siel en vreet aan ons gesondheid. 
As ons die moed by mekaar kan skraap, is dit uiters belangrik om kalm te bly en die SITUASIE aan te spreek, en nie die persoon aggressief aan te val nie. Dit is meestal die GESINDHEID hoe ons die saak benader, wat ons die reaksie/ resultaat sal gee waarvoor ons gehoop het.  Sodoende kan ons dan ‘n oplossing vind en of die ongelukkigheid laat gaan en die persoon vergewe of self om vergifnis  vra. 
Maak seker jy gee die ander persoon ‘n kans om sy/haar saak te stel en luister na wat hy/sy sê.  Kommunikasie is uiters belangrik.  Wees duidelik oor wat jy hoop om uit die bespreking te kry.  Wees voorberei met positiewe voorstelle en luister na die terugvoer.   As daar nog steeds nie ‘n oplossing gevind is nie en die problem te moeilik of sensitief is, moet ‘n derde party betrek word (wat nie emosioneel betrokke is nie) om te luister na albei kante. 
 Dit verbaas my hoeveel tyd en energie ons spandeer aan die nagevolge van konfrontasie.  Hoe lank na die tyd speel dieselfde woorde wisseling nog in ons gedagtes oor en oor en oor?  Vrede maak plek vir nuwe belewenisse en nuwe verhoudings en bring nuwe lewens energie.    
Vra jouself: is dit werklik belangrik?  As die antwoord ja is, soek ‘n mandjie vol taktvol, praat daaroor en maak vandag nog vrede. 
Karin Engman    082 7246985 

No comments:

Post a Comment